Vars aanbieding van ou sprokie boei oud en jonk

| No responses

Skoonlief en die Ondier  |  Regie: Mareli Hattingh  |  Teks: Louis Pretorius  |  Aangebied deur die Universiteit Stellenbosch Dramadepartement  |  5 tot 12 Mei 2012  |  HB Thom-teater, Stellenbosch.

In teorie hoef ‘n mens nie veel aan ‘n bekende sprokie soos Skoonlief en die Ondier te verander om ‘n gehoor van kinders se belangstelling te hou nie. Daar is die ongelukkige prins, weggesteek in ‘n ondier-lyf, ‘n pragtige jong meisie met ‘n  hart van goud, ‘n betowerde kasteel, en natuurlik die moontlikheid dat liefde sal oorwin.

Maar hoe gemaak om so ‘n sprokie in die era van 3D -flieks en omringende klank  op die verhoog geloofwaardig én vermaaklik weer te gee?

Die dramadepartement van die Universiteit Stellenbosch (US) ken al die suksesresep ná vele kinderteaterproduksies en vanjaar se produksie van Skoonlief en die Ondier is geen uitsondering nie.

Die eerste bestanddeel is die interessante storie-verteller, ‘n perd genaamd Kosmos, geloofwaardig vertolk deur ‘n runnikende Lise Steyn as voorlyf en ‘n galoppende Gershwin Mias as agterlyf. Kosmos en haar helpers, Appel (Erentia Bedeker) en Ei (Andre Noordeman), is die interaktiewe skakel met die gehoor wat hulle as’t ware “saamvat” om die storie te beleef.

Die speelruimte word dikwels verder as die verhoog uitgebrei, met onder andere ‘n chaotiese ‘jaag-toneel’ tussen die gehoor deur wat die kinders laat skater het.

Die akteurs, met die onafhanklike – of in die Ondier (Eghard Basson) se woorde: die “moedswillige” – Skoonlief (Minette Tollig) aan die voorpunt, se energievlakke en, waar nodig, humoristiese tydsberekening, stel nie teleur nie.

En wat is ‘n sprokie sonder die gekonkel van die bose antagonis? Dit het Skoonlief ook, maar in ‘n interessante aanpassing word die oorsprong van die Ondier-vloek ‘n twee-koppige heksagtige figuur met die naam Lucia. Die interaksie tussen die twee “koppe” (gespeel deur Alisha Schenk en Llandi Beeslaar) verdien vermelding vir goeie tydsberekening. Lucia  se wriemelende onderdane (die “Swerm”) word uitstekend vertolk deur ’n groep damesstudente wat deurentyd (onder andere) lirieke en aanhalings uit die literatuur dreunsing om ‘n magiese effek te skep.

Newe-karakters en –storielyne gee aan die produksie meer dimensies as net die sprokie-bloudruk. Die inwoners van die Ondier se kasteel is een so ‘n voorbeeld. Kromhout (Marviantoz Baker) is ’n spioen vir Lucia en die bron van baie humor. Verder oortuig Willem van Wyk as die stywe kneg Barto  en roer Groenie (Nina Nel) die drakie wat bang is vir hoogtes en dan tóg kan vlieg, die hartsnare.

Maar dit is veral Christian van Reenen (hoof van dekor) en Anel van Zyl (hoof van kostuums) en hul onderskeie spanne wat pluimpies verdien. Die stel het selfs hierdie volwasse oë laat glo Skoonlief  se dorpie bestaan werklik, die Ondier se biblioteek is regtig vol boeke en (ja, tog!) die tweetjies sweef regtig in  ’n lugballon bo die wolke.

Die laaste bestanddeel van die dramadepartement se suksesresep is die “meet and greet” ná die tyd. Dit sorg daarvoor dat die vermaak nie ophou met die finale buiging nie: Kleintjies kry die kans om die hele rolverdeling buite die teater te ontmoet en foto’s saam met hulle te neem.

Soos vorige jare bewys 2012 se produksie dat kinderproduksies nie volwasse gehoorlede hoef te vervreem nie. ‘n Afgeronde produksie met genoeg humor kán die hele gehoor boei, iets wat Skoonlief en die Ondier beslis regkry.

Deur: Suzaan Hauman

Foto: Johan Wiid