Swembad steeds leeg

| 1 response

Mari Rabie, oud-Matie en Olimpiese­ driekampatleet, het tydens ’n onderhoud aan Die Matie vertel dat US-swematlete swaarkry weens die gebrek aan besluitneming­ van die Universiteitsraad­.

Die US se buiteswembad van 33.3m is meer as 60 jaar gelede gebou­ en kan weens sy ouderdom nie herstel word nie. Die swembad staan sedert­ Mei 2010 sonder water, met die gevolg dat die binnenshuise swembad van 25m diens moet aan 28 000 studente­ doen.

Sommige lede van die publiek, wat lidmate by die US gimnasium is, het ook toegang tot die swembad. Volgens ’n lid van die Maties Swemklub kan een swembad nie professionele atlete en gewone swemmers akkommodeer nie.

“In 1944 was daar ongeveer 5 000 studente en toe was daar twee swembaddens­. Nou is daar 28 000 en daar is een klein (25m) swembad,” sê Rabie.

Tans ry swemmers daagliks ’n uur na die Universiteit van die Wes-Kaap om te oefen. Onder hulle tel Rabie, wat in 2008 aan die Beijing Spele deelgeneem het, en Heerden Herman, wat in 2010 ’n silwer medalje by die Statebondspele verwerf het. Rabie kan weens ’n besering nie hierdie jaar deelneem nie, maar Herman is vandeesweek by die Suid-Afrikaanse kampioenskappe en het suksesvol vir die Olimpiese Spele gekwalifiseer. Beide presteer ook akademies, met Rabie wat ’n gesogte Rhodes-beurs toegeken is om haar meestersgraad by Oxford te voltooi.

“Daar is ’n paar jaar gelede reeds ’n plan vir nuwe swemfasiliteite ingedien­ by die Universiteitsraad. Hierdie­ plan sluit verskeie scenario’s in, van ’n ‘goedkoop’ tot ‘regtige duur’ oplossing­. In twee jaar is daar nog geen besluit geneem oor wat gedoen­ gaan word omtrent die situasie nie. Die planne is daar, hulle moet net sê ‘ja’ of ‘nee’. Die probleem is nie geld nie – Paul Roos kon ’n swembad in drie jaar bou en UWK is besig om hul tweede swembad te bou.

“Daar is vyf ander universiteite in die land met 50m swembaddens – hoe kan die US daarop aanspraak maak om ’n uitnemende universiteit te wees?”

Onlangs is daar selfs in Cape Argus­ ’n artikel geplaas oor die toestand van die US se swembad. Tog is daar geen aanduiding van wanneer ’n plan in werking gestel gaan word nie.

Volgens Rabie is daar ’n definitiewe­ behoefte en kan die behoefte­ aan ’n swembad nie bevraagteken word nie. “Studente wat aansoek doen om lidmaatskap by die Maties Swemklub moet weggewys word. Selfs dan moet swemmers daagliks omdraai by die swembad omdat die vyf bane reeds beset is.

“ ’n Swembad is multifunksioneel. Daar word geswem, waterpolo en onderwaterhokkie gespeel. Die sportwetenskapfakulteit beskou ’n nuwe swembad ook as ’n noodsaaklikheid. Verder gebruik ander sportsoorte soos rugby en hokkie dit vir rehabilitasiedoeleindes­.”

Rabie noem dat goeie swemmers­, wat potensiële Maties is, eerder na ander universiteite gaan weens die afwesigheid van voldoende oefengeriewe.  “As ek nou ’n universiteit moes kies, sal ek dit sterk oorweeg om eerder na Potchefstroom of Pretoria te gaan.”

Deur: Jaco du Plessis

Foto: Johan Wiid