Het jy al agtergekom? Daar is ’n nuwe ‘jong’ in die dorp. Geleë reg op die hoek van Ryneveldstraat is De Stomme Jonge. Dié beknopte, deurmekaar plekkie het mense aan die praat en is alreeds daagliks volgepak vir middagete.
De Stomme Jonge het onlangs hulle deure oopgemaak en spog met ’n interessante spyskaart, met roosterkoek wat die hoofrol in elke dis speel. Die roosterkoeke word elke dag vars gebak. Enige iets van eiers en spek, tot basil pesto en braamkonfyt word saam met die roosterkoeke bedien.
De Stomme Jonge is oop vir ontbyt, middagete en ’n glas wyn saam met ’n vinnige happie in die aand. Die spyskaart is ’n belewenis in eie reg. Elke dis het ’n eg Suid-Afrikaanse naam en die hele spyskaart is in Afrikaans. Van Saartjie Baartman, Simon van der Stel, Jan van Riebeeck, Harry die Strandloper, tot Adam Tas en Eva (krotoa) van die Kaap, almal maak hulle verskyning op dié spyskaart.
Elke dis word bedien met ’n roosterkoek en verskeie ander bykomstighede. Alles word apart bedien sodat jy jou eie wilde kombinasies kan maak.Die anderkant van die spyskaart bied ook roosterkoeke in die vorm van ’n toebroodjie met ’n slaai wat saam bedien word. Hier kry jy ou gunstelinge soos hoender mayonnaise of ham-en-kaas (R38) asook gebakte eiers en kaas (R30). ’n Ou Suid Afrikaanse tradisie wat ’n mens nie sommer meer sien nie, is die biltong en kaas roosterkoek teen R40. Die pryse is redelik hoog vir die algemene studentebegroting, maar die roosterkoeke is definitief die moeite werd. Jy gaan ver soek om iets soortgelyk te kry. Teen R95 is die Jan van Riebeeck ’n goeie opsie om te deel tussen twee mense.
Hierdie dis bestaan uit twee roosterkoeke, 3 kase en 3 vleise asook een konfyt en ’n bietjie rocket om af te rond. Niks gaan ook beter saam met ’n roosterkoek as konfyt en kaas nie. Dit is hier waar Adam Tas te voorskyn kom met ’n keuse tussen een van drie konfyte (braam, appelkoos of vye). Teen R25 is dit definitief die moeite werd.
Selfs die twee slaaie op die spyskaart word bedien met ’n stukkie roosterkoek. Die keuses is maar min met slegs ’n hoender slaai en ’n camembert en vye slaai opsie. Teen R50 is dit effens duur vir die klein porsie, maar die slaai is vars en interessant en die vye en camembert bied ’n goeie soet-sout kombinasie.Vir die soettand is daar eg Suid Afrikaanse melktert op die spyskaart teen R17. Die melktert kan saam met koffie of rooibos tee geniet word.
Die atmosfeer is rustig en die kelners nog meer so. Maar hulle doen hul ding en die diens is flink. Toeriste en studente maak ewe veel hierdie klein plekkie vol – ’n verskeidenheid van mense wat saam kuier.
Die tafels is min, so bespreek as jy ernstig is om te gaan. Dis heerlik om buite te sit in die somer, maar spasie binne mag dalk ’n probleem veroorsaak as dit kouer raak. Kontak hulle by destommejonge@gmail.com of soek hulle op Facebook.
Deur: Wilandri Basson
Foto: Chantall Marshall




